AfriForum se Springs-tak oorhandig petisie aan Ekurhuleni


AfriForum se Springs-tak het op 6 Desember 2018 ’n petisie, wat deur sowat 300 bekommerde lede van die publiek onderteken is, by die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit ingedien. Dié petisie maak beswaar teen die feit dat riool wat voortdurend in die Blesbokspruit invloei al vir weke lank bloot geïgnoreer word en is aan die stadsbestuurder oorhandig.

Die Springs-tak het ’n veldtog van stapel gestuur wat oor ’n tydperk van agt weke die toename van riool in die Blesbokspruit sou takel. Dié projek het op 1 Oktober 2018 met ’n aanlyn petisie afgeskop wat tydens die eerste week op sosiale media versprei is. Die tak het verskeie skrywes aan die munisipaliteit gerig en aksies geloods om gemeenskapslede se betrokkenheid op ’n proaktiewe wyse te mobiliseer en druk op die munisipaliteit uit te oefen.

“Die tak het reeds terugvoer van die munisipaliteit ontvang dat dringende aandag aan die Blesbokspruit-saak geskenk sal word en dat ERWAT (East Rand Water Care Association) genader is om addisionele inligting te verskaf. Ons sal egter voortdurend moet opvolg om seker te maak dat hierdie probleem die hoogste prioriteit geniet, aangesien dit al ’n geruime tyd voortduur,” sê Richardt Lubbe, voorsitter vir plaaslikeregeringsake van AfriForum se Springs-tak.

Kwessies soos hierdie beklemtoon die belangrikheid dat gemeenskapstrukture hulself vir ’n skoner, veiliger en volhoubare toekoms moet beywer en self moet betrokke raak om probleme aktief aan te pak. Die tak moedig die gemeenskap aan om by AfriForum se aksies betrokke te raak en ook hulle name tot die Blesbokspruit-petisie te voeg deur dié aanlyn skakel te volg:  https://afriforum.co.za/toename-van-e-coli-die-blesbokspruit/.

Soortgelyke plasings