| |

AfriForum se Springs-tak skenk nuwe pomp vir waterkar om brande te beheer

AfriForum se Springs-tak het in Junie ’n nuwe waterpomp vir die Endicott- en Vischkuil-gemeenskap se brandkar geskenk. Dié tak het besluit om die gemeenskappe te ondersteun omdat inwoners van kleinhoewes in die gebied swaar onder brande gebuk gaan.

Die tak het in 2018 ook ’n nuwe motor vir die waterkar gekoop nadat dit onklaar geraak het. Die Endicott-gemeenskap is afgeleë: dit neem enige hulp minstens 30 minute om op te daag. Daarom is hulle van ’n werkende brandkar afhanklik om enige brande self te beheer.

Sedert dié waterpomp vervang is, kon die gemeenskap 34 brande self onder beheer bring en blus.

“Alle buurt- en plaaswaglede wat aktief by die brandbestryding betrokke is, word van die nodige veiligheidstoerusting en asemhalingsmaskers voorsien. Hoewel die brande steeds toeneem, sal ons aanhou om die nodige ondersteuning te gee om die situasie onder beheer te hou,” sê Roben Collen, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Endicott-plaaswag.

 

“Dit is van kardinale belang dat gemeenskappe self verantwoordelikheid vir hul omgewing neem sodat ons mekaar in tye van nood kan ondersteun. Opleiding en toerusting vir brandbestryding speel ’n deurslaggewende rol in die korrekte hantering van hierdie gevalle, en daarom fokus die takbestuur ook op volgehoue opleiding,” sluit Cornel Swart, voorsitter van AfriForum se Springs-tak, af.

Raak vandag by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings