|

AfriForum se Standerton-buurtwag, SAPD en Kasselman-sekuriteit trek verdagtes vas

AfriForum se Standerton-buurtwag het op 22 Maart 2020 in samewerking met die SAPD en Kasselman-sekuriteit drie verdagtes vasgetrek nadat ’n buurtwaglid ’n verdagte Volkswagen Polo op die Morgenzon/Standerton-pad opgemerk het. Dié motor is vroeër vandeesmaand op veiligheidsgroepe as verdag aangemeld en die verdagtes is na bewering by kaartkloning betrokke.

Die buurtwaglid het die buurtwag, SAPD en Kasselman-sekuriteit in kennis gestel en die voertuig na Standerton gevolg. Buurtwaglede, SAPD-lede en lede van Kasselman het opgetree en op sleutelpunte wag gestaan terwyl hulle inligting van AfriForum se buurtwag opgevolg het.

Die verdagte voertuig is vasgetrek en die drie verdagtes is in hegtenis geneem. Voertuigsleutels, vier selfone, ’n beursie met bankkaarte, sewe bottels Hennessy en twee bottels Courvoisier is in hul besit gevind. Dié alkohol word met ’n saak in Ermelo verbind nadat daar Saterdagaand by ’n restaurant ingebreek is.

“Ons wil graag die SAPD-lede in Standerton en Kasselman-sekuriteit bedank vir hul samewerking. Hierdie samewerking tussen die SAPD en veiligheidsrolspelers is noodsaaklik om inwoners se veiligheid te verbeter,” sê Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

11 lede van dié buurtwag het ook op 21 en 22 Maart 2020 taktiese opleiding ontvang waartydens hulle geleer het hoe om hulself in ’n voertuig te beskerm, om ’n ander voertuig te benader en ’n inhegtenisneming uit te voer. Die lede is ook opgelei oor hoe om ’n huis waar ’n voorval plaasgevind het, te benader.

“Die tegnieke wat lede geleer het, is werklik sinvol en gaan beslis verder tot die beveiliging van hul omgewing bydra,” sê Gerhard Moll, voorsitter van AfriForum se Standerton-buurtwag.

Raak vandag nog by AfriForum se Standerton-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45350 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings