|

AfriForum se Stellaland-buurtwagte hou nasionale massapatrollie

Die AfriForum-buurtwagte in Bloemhof, Christiana, Delareyville, Biesiesvlei en Vryburg het in samewerking met die SAPD, die plaaslike GPF, gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n massapatrollie op 8 Julie 2022 in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep. Die aksie het omstreeks 16:00 begin en tot 04:00 die volgende oggend voortgeduur.

Altesaam 89 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en 1 070 km in 47 voertuie afgelê. Die hoofdoel van die patrollie was om sigbaarheid te verhoog in die onderskeie gebiede en sodoende misdaad teen te werk.

“Die Stellaland-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies hou om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan en veiligheid te bevorder. Dit is belangrik dat gemeenskappe en organisasies saam hande vat om misdaad te bekamp.  Die verhoogde sigbaarheid in dorpe speel ’n belangrike rol in gemeenskapsveiligheid en daarom is dit belangrik dat patrollies soos hierdie moet plaasvind,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Die Stellaland-buurtwagte wil graag elke patrollie-lid en elke ander rolspeler wat deelgeneem het bedank vir hul opofferings.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings