| | |

AfriForum se Stellaland-takke help gemeenskappe tydens COVID-19-pandemie

AfriForum se Stellaland-takke het die afgelope maand meer as 2 ton voedsel aan 200 behoeftige gesinne uitgedeel. Die aksie is in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, Saai en verskeie ander organisasies aangepak om gemeenskappe tydens die staat van inperking te ondersteun.

Groot nood het in gemeenskappe ontstaan nadat sommige mense nie tydens die inperking salarisse ontvang het nie of selfs hul werk verloor het omdat ondernemings hul deure moes sluit. ’n Taakspan wat uit AfriForum, Saai en Solidariteit Helpende Hand bestaan, is op die been gebring om die verspreiding van voedsel na gemeenskappe op ’n georganiseerde wyse te bestuur.

Die takke in die distrik – Hertzogville, Christiana, Bloemhof, Schweizer-Reneke en Vryburg – het ook meer as 130 liter handreiniger en 800 gesigmaskers versprei om gemeenskappe teen die opdoen van COVID-19 te help beskerm.

“Dit is wonderlik om te sien dat gemeenskappe saamstaan en mekaar in dié moeilike tyd ondersteun. Baie van die kospakkies wat versprei word, is moontlik gemaak danksy skenkings wat ons by mense in die gemeenskap ontvang het. Dit sou nie moontlik gewees het om dié projek te dryf sonder die hulp van die gemeenskap nie,” sê Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

“Ons weet ook daar is nog baie mense wat hulp benodig en ons sal so ver moontlik almal probeer help. Ons hulpbronne is egter soms beperk, maar ons vertrou dat ons met hulp vanuit die gemeenskap sal kan help,” voeg Nieuwoudt by.

AfriForum het ook ’n noodfonds vir elke tak geskep wat gebruik word om hierdie aksies volhoubaar voort te sit. Lede van die publiek kan skenkings aan die noodfonds maak wat weer gebruik word om noodsaaklike produkte vir die behoeftiges aan te koop. Mense wat skenkings wil maak, kan hul naaste tak kontak vir meer inligting of die taknoodfonds-blad op AfriForum se webtuiste besoek.

Sluit vandag nog by AfriForum aan en help ons om ’n daadwerklike verskil in mense se lewens te maak. SMS jou naam na 45351 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings