|

AfriForum se Steynsrus-tak maak verskil in gemeenskap

Die AfriForum-tak in Steynsrus het die afgelope tyd verskeie gemeenskapsprojekte suksesvol voltooi.

Die tak het op 14 September ’n noodwaterpunt opgerig by die NG Kerk Steynsrus. Die tak het twee JoJo watertenks, wat elk sowat 500 liter water kan stoor, hier opgerig asook die nodige sementplatform gelê vir die tenks om op te staan. Hierdie waterpunt sal oopgestel word aan die gemeenskap sou daar ’n tekort ontstaan of dit vir brandbestrydingsdoeleindes aangewend moet word. Hierdie projek is deur die volgende taklede koördineer, Jan Uys – projekbeampte, Johan Marais – takvoorsitter, Moureen Hurter – taklid en Pieter Pretorius – taklid.

Daar is ook op 14 September ’n gemeenskapsvergadering gehou waartydens die plaaslike AfriForum-buurtwag ’n nuwe bestuur verkies het. Die nuwe bestuur is: Johan Marais – buurtwagleier, Sylvanus Watson – operasie spanleier platteland, O.J. Swanepoel – operasie spanleier stede, Louis Koch – steun spanleier platteland, Edwin Brazer – steun spanleier stedelik en Lilley Swanepoel – inligting spanleier.

“Ons hoof doelwit op hierdie stadium is om die veiligheid van die Steynsrus-gemeenskap as geheel te bevorder om ’n daadwerklike verskil te maak,” sê Johan Marais, AfriForum se takvoorsitter in Steynsrus.

Die tak het ook handreinigers en maskers uitgedeel volgens behoefte. Die vullisterrein in die omgewing is geoudit en gerapporteer vir verdere ondersoek om probleme daar op te los. Die tak het ook kospakkies aan die NG Kerk geskenk vir mense in nood.

Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, bedank die gemeenskap vir hul insette tydens die verkiesing, asook die bestuurslede vir hul bereidwilligheid om op die takbestuur te dien. “Die nuwe buurtwagbestuur wil graag saam met die gemeenskap werk om volhoubare veiligheidsinisiatiewe en gebeurlikheidsplanne op die been te bring – soos die aankoop van ’n brandbestrydingswaterkar, kamerastelsels en die bestaande radionetwerk te verskerp. As die gemeenskap saamstaan en hard werk kan hulle ’n beter omgewing en toekoms vir almal skep.”

Die bestuur versoek die gemeenskap om vandag nog by dié tak betrokke te raak: SMS “Steynsrus” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings