AfriForum se Stilfontein-buurtwag hou skoonmaakaksie


Die AfriForum-buurtwag in Stilfontein het op 3 Maart die terrein by die Kowie-verkeersirkel skoongemaak. Dít volg nadat die buurtwag verskeie klagtes van ontevrede gemeenskapslede oor die swak toestand van dié dorp se verkeersirkels ontvang het. Aangesien die gras nie gesny word nie is dit sowel ’n potensiële skuilplek vir misdadigers as ’n gevaar vir motoriste omdat dit sigbaarheid beïnvloed.
Die skoonmaakaksie kon danksy Vollie’s Tuindienste in Stilfontein – wat die nodige gereedskap beskikbaar gestel het – op kort kennisgewing suksesvol georganiseer word.

“Daar is binne 30 minute ’n span vrywilligers bymekaar gekry wat bereid was om hand by te sit en ons wil almal bedank wat gehelp het om van Stilfontein ’n netjieser dorp te maak – dit is tot voordeel van die hele gemeenskap,” sê Pieter du Preez, voorsitter van AfriForum se Stilfontein-buurtwag.

Die plaaslike AfriForum-tak sal binnekort meer inligting kommunikeer oor die volgende skoonmaakaksie sodat meer trotse Stilfonteiners betrokke kan raak.

Soortgelyke plasings