AfriForum se Stilfontein-tak skep hoop met die plant van bome


Die AfriForum-tak in Stilfontein het bome by agt skole en ’n sorgoord geplant as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplant-inisiatief vir 2018.

Op 12 Oktober 2018 is bome by Hoërskool Stilfontein, Laerskool P.A. Theron, Lofdal Christian School en Pinnacle Primary and Secondary Boarding School geplant. Op 16 Oktober 2018 het Laerskool Strathvaal, Laerskool Driefonteine, Pelonomi Primary School en Laerskool Stilfontein aan die beurt gekom, asook die Justice Otto Sorgoord. Raadslede van die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit, die plaaslike GPF en Stilfontein SAPD is almal genooi om aan die aksie deel te neem.

“Dit was wonderlik om te sien hoe verskeie rolspelers in die gemeenskap saamwerk om ’n positiewe bydrae in Stilfontein te lewer. Die kinders het dit terdeë geniet en hulle kon terselfdertyd ook meer oor die waarde van bome in ons omgewing leer,” sê Stephen Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum het sy takke aangemoedig om inheemse bome te plant wat maklik in hul plaaslike omgewings aard.

“Bome is deel van ons erfenis en ons hoop dat elke kind wat by die projek betrokke was eendag hul nageslag hierheen sal bring en met die groot bome kan spog wat hulle self gehelp plant het,” meen Pieter du Preez, voorsitter van AfriForum se Stilfontein-tak.

Die tak moedig die gemeenskap aan om deel te word van ’n groener toekoms en wil Wildflower Nursery graag vir die boomskenkings bedank.

Soortgelyke plasings