| |

AfriForum se Suid-Kaap-takke kry aartappelskenking

AfriForum se Suid-Kaap-takke het met hulp van boerevriende aartappels vanaf die Vaalharts-besproeiingskema naby Christiana ontvang. Die vrag van 28 ton aartappels met ’n  beraamde waarde van R105 000 is op 15 Mei 2020 in George afgelewer, vanwaar dit versprei is. Solidariteit Helpende Hand het saam met AfriForum fondse bewillig om die aartappels na George te vervoer en het ook gehelp met die toekenning van skenkings.

“Ons is so dankbaar vir hierdie skenking – Die Vader was so goed vir ons in hierdie tyd. Dit stel ons in staat om honderde behoeftige gesinne wat in die Suid-Kaap woonagtig is te bereik en te help. Ons kon ook hulp verleen aan verskeie liefdadigheidsorganisasie wat, net soos ons, hul harte en hande oopmaak vir ons mense. Ons bedank veral Marius (Mars) van der Colff wat sy geriewe by Tramonto Boutique Hotel beskikbaar gestel het om die vrag te stoor en te bewaar. Ons is ook dankbaar vir al die inwoners van George wat kom help aflaai het – dit maak hierdie ervaring ekstra spesiaal!” sê Marlise Labuschagne, Helpende Hand se streeksbestuurder vir die Suid-Kaap.

“AfriForum sien die voedselnood raak tydens die staat van inperking. As verantwoordelike landburgers sien ons hoe ons takke en lede oral skouer aan die wiel sit om ons naaste te help. Dit bewys dat AfriForum vinnig en doeltreffend op ’n krisis in ons gemeenskappe kan reageer en ’n daadwerklike verskil kan maak,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Raak vandag nog by AfriForum se George-, Mosselbaai- of Oudtshoorn-tak betrokke: SMS “(die tak van jou keuse)” na 45342 (R1).

V.l.n.r Arno Greyling (AfriForum) Nantes Du Plessis (Helpende Hand-vrywilliger), Zane Labuschagne (Helpende Hand-vrywilliger), Marlise Labuschagne (Helpende Hand)

Soortgelyke plasings