AfriForum se takke in groter Pretoria dra by tot groener toekoms     


Die AfriForum-takke in groter Pretoria het tydens September vanjaar ongeveer 202 bome geplant as deel van dié burgerregte-organisasie se nasionale boomplantmaandveldtog.

“Bome is ’n erfenis. Dit is ’n belangrike deel van die ekostelsel en is ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand in staat sal wees om te oorleef nie,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se streekskoördineerder vir Gauteng-Noord.

Die hooffokus vanjaar vir groter Pretoria was om die vaderlandswilg (Combretum erythrophyllum) te plant en die bome is hoofsaaklik van Willow Feather Farm verkry. AfriForum moedig gemeenskappe aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewing sal aard.

“Vir my simboliseer die aanplant van inheemse bome – buiten die belangrike rol wat dit in die welstand van ons land se ekostelsel speel – ook die belangrike rol wat ons land se mense het om in die welstand van Suid-Afrika te speel. Ten einde van dié land ’n sukses te maak, moet alle landsburgers hul deel doen en aanhou om op te bou sodat ons almal kan floreer,” meen De Klerk.

AfriForum moedig die gemeenskap aan om by dié veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n beter, groener toekoms. SMS “Groen” na 45341 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings