|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek die Nuwe Hoop Skool

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 11 en 12 April by die Nuwe Hoop Skool in Pretoria besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig. Hoërskool leerders is ook met meer inligting toegerus oor die gevare rondom kuberafknouery,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Boeliegedrag kom al meer voor by skole, maar ook in werksplekke. Dit is belangrik dat daar by al die skole ’n bewusmakingsveldtog gedoen moet word om leerders en onderwysers daarop bedag te maak dat boeliegedrag onaanvaarbaar is en dat leerders sowel as onderwysers moet leer hoe om dit te hanteer. Van kleintyd af moet ’n mens kinders leer dat dit nie reg is om fisies of emosioneel geboelie te word nie. Die wapenrusting is vir my ’n mooi voorbeeld hoe om kinders te laat fokus om lief te wees vir hulself, maar ook om mekaar te respekteer en God eerste in hul lewe te stel. Dit leer die kinders dat God hulle liefhet en dat hulle volgens Sy hand gemaak is: uniek en waardevol,” sê Isabel Böning, Solidariteit Helpende Hand se streekorganiseerder vir Pretoria-Oos.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings