|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Hoërskool Douglas

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 6 Mei 2022 by die Hoërskool Douglas besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Die leerders was ook bewus gemaak oor die gevare van sosiale media, kuberafknouery en hoe die internet op ’n veilige manier gebruik kan word,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Boeliegedrag onder kinders is ongelukkig iets wat orals voorkom al kom volwassenes nie altyd te hore daarvan nie. Daarom is dit belangrik dat bewusmaking gedoen word vanaf ’n jong ouderdom sodat die slagoffer sowel as die onderwyser weet hoe om dit te identifiseer en te hanteer, en die boelie weet dat dit wat hy of sy doen baie skade aan ‘n ander kind se karakter kan doen,” sê Marike Labuschagne, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Bo-Karoo.

Vir meer inligting rondom AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings