|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Eligwa as deel van Vanderbijlpark se #VegEnBou-week

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 28 September 2021 by die Laerskool Eligwa in Vanderbijlpark besoek afgelê as deel van die organisasie se #VegEnBou-week. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Boeliegedrag is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifiek waar daar ’n wanbalans van mag voorkom. Afknouery is ’n wêreldwye probleem en Suid-Afrika is beslis geen uitsondering nie.

  • Volgens ’n Unesco-verslag word bykans 250 miljoen kinders en jongmense jaarliks wêreldwyd afgeknou.
  • 25% van Suid-Afrika se ouers beweer dat hul kind al ’n slagoffer van afknouery of boeliegedrag was.
  • In 2018 het ’n studie, waaraan ongeveer 21 000 mense van 28 verskillende lande deelgeneem het, bevind dat Suid-Afrika die hoogste syfer van kuberafknoueryvoorvalle het.
  • Meer as helfte (54%) van Suid-Afrika se ouers weet dat ’n kind in hul gemeenskap kuberafknouery ervaar.

Kuberafknouery word gedefinieer as die optrede waardeur iemand geteister, verneder, gedreig, of in die verleentheid gestel word deur elektroniese metodes, soos blitsboodskappe, e-posse of op sosiale media. Ander vorme van afknouery sluit in: fisiese, verbale en emosionele afknouery.

AfriForum se teenboelieveldtog fokus op die boeliedriehoek of altans die driehoek van teistering, naamlik die boelie, die slagoffer en die omstanders. Die veldtog beoog om leerders in al drie hierdie kategorieë toe te rus met die nodige vaardighede en kennis om boeliegedrag hok te slaan.

Stuur ’n e-pos na tania.scheepers@afriforum.co.za of leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings