|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Fairland

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 8 Maart die Laerskool Fairland in Randburg besoek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig. Leerders in graad 5 tot 7 is ook met meer inligting toegerus oor die gevare rondom kuberafknouery. Ons het ook die aand vir die ouers ’n praatjie aangebied wat hulle bemagtig om proaktief op te tree as dit kom by boelievoorvalle,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Laerskool Fairland poog om die gemeenskap te bemagtig sodat elkeen veilig en betekenisvol voel deur mense se individuele verskille te verstaan en te aanvaar. Afknouery word dus nie geduld nie en die volgende beginsels is baie belangrik: Respekteer mekaar se reg tot menswaardigheid; bevorder ’n veilige skoolmilieu; en respekteer en waardeer elke individu se uniekheid. Dit is dus belangrik om op ’n gereelde grondslag ons leerders en ouers bloot te stel aan inligting wat hulle bemagtig om die spesifieke onderwerp beter te kan hanteer,” sê Dean Benadie, departementshoof van opvoedkundige leiding by die Laerskool Fairland.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings