|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Mayville

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 9 Junie 2022 by die Laerskool Mayville in Pretoria besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“By Laerskool Mayville streef ons daarna om ons gemeenskap se norme en waardes te handhaaf. Godsdienstige oortuigings is ’n belangrike bron van die identiteit, waardes en lewens- en wêreldbeskouing van die ouers, onderwysers en leerders by ons skool. By Laerskool Mayville is dit vir ons belangrik om gelukkige kinders te kweek. Ons glo dat gelukkige kinders hulle optimale potensiaal kan bereik en ons streef daarna om elke kind daartoe te begelei. Elke leerder word gesien as ’n gawe en verdien om met agting en respek behandel te word. By Laerskool Mayville word erkenning gegee aan elke kind se uniekheid en herkenning van moontlikhede. ’n Omgee-atmosfeer wat boelievry is, word gehandhaaf om sodoende gebalanseerde kinders te ontwikkel,” sê JP Joubert, hoof van die Laerskool Mayville.

“Boeliebewusmaking is ’n belangrike veldtog wat al vyf jaar aangebied word by ons skool. Ons glo dat as leerders leergereed is, sal hulle veilig en geborge voel by die skool.  Kinders presteer beter as hulle gekoester word en dit skep ook ’n goeie selfbeeld. Leerders met ’n gesonde selfbeeld toon ook goeie leiereienskappe. Dit gaan dus ook oor die holistiese ontwikkeling van leerders. Die teenboelieveldtog het die leerders se gedrag verbeter en hulle het ook geleer om mekaar te respekteer en mekaar se omstandighede beter te verstaan. Baie leerders en kinders word nie altyd ingelig oor wat boeliegedrag regtig is en hoe om dit aan te spreek nie. In hierdie teenboelieweek bemagtig ons die leerders oor hoe om boelies te hanteer, te identifiseer en wat die nodige roetes is om te volg om dit aan te meld.  Ons kon sodoende vele leerders help en ondersteun,” sê Albert Kluyts, adjunkhoof van die Laerskool Mayville.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings