|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Lanternskool in samewerking met AfriForum Jeug, WIRED – Flip the switch en BrainTribe

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 25, 26 en 27 Julie 2022 by Lanternskool in Roodepoort besoek afgelê in samewerking met AfriForum Jeug, WIRED – Flip the switch en BrainTribe. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Jeug, noem dat ons in ’n tyd lewe waar hoop skaars is en onsekerheid baie jongmense se visie vir ’n toekoms in ons land onderdruk. “AfriForum Jeug het ten doel om deur ons projekte en aksies weer vir jongmense hoop te gee en hulle te help om eienaarskap van hul eie toekoms te neem,” sê Peters. “Dit was vir my ’n voorreg om met die jong manne van Lanternskool te kon gesels. Ons toekomstige leiers wat oor ’n paar jaar as leiers in ons gemeenskappe moet optree, sit tans in die skoolbanke en dit is ons verantwoordelikheid om hulle sover moontlik te bemagtig om ons gemeenskappe en land verantwoordelik te kan lei.”

“Lanternskool het besluit om ’n boelieweek te hou, omdat boelie altyd iets is waarmee ’n mens sukkel. Ons sê dankie aan AfriForum en hulle span wat ons kinders kom bemagtig het met hul praatjies en insette. Heelwat kinders beleef baie woede by hul ouerhuis en weet nie altyd hoe om daarmee te deel nie en dan raak hulle aggressief wat moontlik tot boeliegedrag kan lei. Ons wil hulle laat verstaan dat jou hart seer mag wees, maar dat dit verkeerd is om dit op ander uit te haal. Hierdie week het hulle laat besef dat hulle elkeen uniek en spesiaal is, maak nie saak wat al verkeerd geloop het in hul lewe nie, en hulle is ook bewus gemaak van die gevare van sosiale media. Dankie, AfriForum!” sê Sonja Lombaard, onderwyser van Lanternskool.

“Om die klem te verskuif na mekaar se vermoë en beperkings vanuit die regte perspektiewe, sal die funksionering in ’n groep net soveel meer betekenisvol en geslaagd maak. Jy moet weet wié jy is, waartoe jy in staat is en wat jou doel op aarde is – anders gaan jy jouself voortdurend met ander vergelyk en net nooit goed genoeg voel nie. WIRED Flip the Switch – in samewerking met Lynette Beer se #Vierkleur Temperamentmodel bemagtig leerders met die eindste doel: Ken jouself!” sê Hui-Mari Meyer van WIRED – Flip the switch.

Soortgelyke plasings