AfriForum se Tzaneen-tak hou massaskoonmaakprojek

 

Die AfriForum-tak in Tzaneen het in samewerking met verskeie ander organisasies en vrywilliges ’n massaskoonmaakprojek by die Tzaneen-dam uitgevoer.
Dié projek het onder meer die volgende behels:

  • Visnette is verwyder wat onwettig in die dam gebruik word om visse op groot skaal te vang.
  • Groot hoeveelhede vullis is uit die dam verwyder met behulp van vier bote wat deur Letaba Bassmaster beskikbaar gestel is.
  • Die ontspanningsterrein, wat in ’n haglike toestand was, is met die hulp van studente van Wolkberg Akademie skoongemaak. Die maatskappy HK Houers Bpk. het 75 vullishouers geskenk.
  • Plaaslike sekuriteitsbeamptes het die gebied gefynkam, veral areas waar dwelmhandel vermoedelik al plaasgevind het.

“Die projek was ’n groot sukses en dit was verblydend om te sien hoeveel lede van die gemeenskap bygedra het om ’n wesenlike verskil in hulle omgewing te maak,” sê Lizandra Viviers, sekretaris en projekkoördineerder van die plaaslike tak.
“AfriForum bedank elke taklid, organisasie en vrywilliger wat gehelp het om die dag moontlik te maak. Ons hoop om die goeie werk wat hier verrig is deurlopend in ons omgewing voort te sit,” sê Pieter Venter, voorsitter van die Tzaneen-tak.

Borge wat betrokke was en die tak gehelp het om die dag moontlik te maak, is Letaba Bassmaster, Wolkberg Akademie, HK Houers Bpk. en Kinglands Farming.

Soortgelyke plasings