AfriForum se Tzaneendam-skoonmaakprojek ’n reusesukses


AfriForum se Tzaneen-tak het op 15 September die Tzaneendam suksesvol skoongemaak. Die doel van die skoonmaakaksie was om vullis in en rondom die dam, asook onwettige visvangnette uit die dam te verwyder. Dié projek is in samewerking met Letaba Bassmasters, lede van natuurbewaring en ander gemeenskapsorganisasies op die dorp aangepak.

Agt bote en nagenoeg dertig vrywilligers uit die gemeenskap het saamgewerk om nette uit die dam te haal, asook die gebied rondom die dam skoon te maak. Die gesamentlike hoeveelheid vullis wat opgeruim is het ’n groot munisipale stortbak opgevul.

“Die Tzaneendam-skoonmaakprojek is ’n gemeenskapsgedrewe aksie wat jaarliks gehou word. Ons doen dit om sowel die ekostelsel van die dam as die omliggende natuur te bewaar,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Die aksie is ook geloods as teenvoeter vir onwettige vissery, waartydens nette in die dam gespan word om groot hoeveelhede vis te vang en kommersieel te verkoop.

Soortgelyke plasings