| |

AfriForum se Uitsig-buurtwag trek sakerowers vas

Die AfriForum-buurtwag in Uitsig het op 25 Maart 2020 gehelp om twee sakerowers vas te trek. Die buurtwag se veiligheidsvoorsitter het omstreeks 19:00 inligting ontvang dat ’n rooftog besig was om by ’n winkel in die buurt plaas te vind. Alle patrolleerders se hulp is ontbied en na die toneel gestuur.

Met die patrolleerders se aankoms het hulle skote hoor klap en gesien hoe die rowers op die vlug slaan. Twee van die rowers is egter op die toneel vasgetrek. ’n Vuurwapen is by die een verdagte gevind en nóg ’n wapen is in ’n nabygeleë tuin gevind.

Die ander verdagtes het met ’n voertuig in die rigting van ’n informele nedersetting gejaag. Die toneel is afgebaken en aan die SAPD oorhandig vir verdere ondersoek.

“Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer, maak vinnige optrede deur die buurtwag moontlik. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, die polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood by te staan,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek.

Soortgelyke plasings