|

AfriForum se Uitsig-buurtwag trek verdagtes vas

’n Patrolleerder van Uitsig het op 29 September 2019 ontdek dat sy beursie gesteel is nadat hy boodskappe van sy bank ontvang het oor aankope met sy kaart wat hy nie self gemaak het nie. Met verdere ondersoek by die vulstasie waar die kaart vroeër gebruik is, het die kassier bevestig dat die verdagte wat die kaart gebruik het pas weer by die winkel ingeloop het.

Die verdagte is met die kaart in sy besit aangekeer en AfriForum se Uitsig-buurtwag en VR Sekuriteit is na die toneel ontbied. Nóg ’n verdagte persoon – wat vermoedelik brandstof ingegooi het en vir die ander verdagte gewag het om met die gesteelde kaart daarvoor te betaal – is by ’n voertuig opgemerk. Die buurtwag het hom dopgehou en betrap terwyl hy vermoedelik besig was om dwelms te versteek. Die buurtwag het op die dwelms beslag gelê en die SAPD ontbied, waarna beide verdagtes in hegtenis geneem is. Die polisie het ook R15 000 se kontant in die voertuig gevind.

Volgens Kobus Griesel, voorsitter van AfriForum se Uitsig-buurtwag, is dit ’n groot sukses vir sowel die buurtwag as die gemeenskap. “Misdadigers moet weet dat hulle geen plek in ons dorp het nie en dat ons gemeenskap sonder skroom teen misdaad sal saamstaan.”

 

“Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan deurgee, maak vinnige optrede deur die buurtwag moontlik. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood by te staan,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek.

Soortgelyke plasings