|

AfriForum se Upington-tak beveilig sentrum vir gestremdes en plant bome

Die AfriForum-tak in Upington het die afgelope tyd hard gewerk om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Hulle het onder meer die plaaslike Vereniging vir mense met gestremdhede – beter bekend as die ADP – beveilig en ook bome geplant by die plaaslike SAPD.  

Die ADP is ’n organisasie sonder winsbejag wat dienste lewer aan mense met gestremdhede. Hulle sentrum in Upington het ten doel om strukture daar te stel wat mense met gestremdhede kan help om onafhanklik te leef. Die sentrum in Upington is ’n gereelde teiken vir vandale en ander kwaaddoeners in die omgewing. Die AfriForum-tak het daarom besluit om in te spring en lemmetjiesdraad aan te bring by die ingang waar die kwaaddoeners oor die heining klim. Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder in die Kalahari, het saam met Jony Swarts, ’n vrywilliger, die lemmetjiesdraad aangebring.

Op 8 September het die AfriForum-tak ook vier witkarees geplant by die plaaslike SAPD as deel van die organisasie se jaarlikse boomplantmaand.    

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak: SMS jou naam na 45350  (R1).

Soortgelyke plasings