AfriForum se Upington-tak en The Outcry of the Body of Christ vat hande vir dorp se toekoms

Die AfriForum-tak in Upington het in samewerking met The Outcry of the Body of Christ op 12 September 2019 tydens ’n optog memorandums by verskeie regeringsinstellings oorhandig om sowel plaaslike as nasionale kwessies aan te pak.

Die tak het die volgende drie eise aan Michael Segede, burgemeester van die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit, gerig:

  1. Sakkie se Arkie word steeds op die huidige perseel bedryf soos voorheen, of alternatiewelik moet die munisipaliteit Rosepark beskikbaar stel vir die toekomstige bedryf van Sakkie se Arkie. Die munisipaliteit word twee weke gegun om met die tak hieroor in gesprek te tree.
  2. AfriForum eis antwoorde binne die volgende twee weke oor die fondse wat beskikbaar gestel is vir die herstel van ’n rioolpyp wat al vir ’n geruime tyd stukkend is en meebring dat riool in die Oranjerivier gestort word.
  3. AfriForum versoek ook redes waarom Upington se elektrisiteitstariewe van die duurste in die Noord-Kaap is.

“Ons het vandag aksie geneem en hande gevat met ander instansies van Upington om vir ons dorp ’n beter toekoms te skep. Sakkie se Arkie is ’n groot trekpleister vir toeriste, wat tot die dorp se ekonomie bydra – daarom sal ons aanhou veg vir die behoud daarvan. Ons is verder baie bekommerd oor die gehalte van die rivier se water omdat dit ook ’n beduidende rol in ons ekonomie speel met betrekking tot ons uitvoerdruiwe,” sê Werner Strauss, voorsitter van AfriForum se Upington-tak.

AfriForum het die munisipaliteit sewe werksdae gegee vir skriftelike terugvoer, waarna verdere stappe geneem sal word om die probleme op te los.

SMS “Upington” na 32532 (R1) om by jou plaaslike AfriForum-tak aan te sluit.

Klik hier vir die memorandum.

Soortgelyke plasings