|

AfriForum se Upington-tak maak skoon voor munisipale kantoor

Die AfriForum-tak in Upington het op 30 April hul volhoubare skoonmaakaksie voortgesit. Die tak het voor die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit se kantoor ook skoongemaak asook voor Laerskool Fanie Malan in Dr. Nelson Mandelarylaan.

Nege vrywilligers het op die dag gehelp om 26 bome te snoei en die sypaadjie netjies en toeganklik gemaak vir voetgangers om te gebruik. Twee vragte vol tuinafval en vullis is verwyder. Johan Bezuidenhout van BB Spares en Dixon Batterye het sy vragmotor aan die tak beskikbaar gestel om die tuinafval en vullis na die vullisterrein te vervoer.

“As die Dawid Kruiper Munisipaliteit nie hul basiese pligte aan die gemeenskap na wil kom nie dan moet die gemeenskap maar na homself kyk. Upington maak staat op toerisme en indien niemand na die dorp kyk nie gaan toeriste nie meer die dorp besoek nie,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder in die Kalahari. “Dit is egter verblydend om te sien hoe ’n gemeenskap inisiatief neem en saam werk om ’n verskil te maak. Soms voel dit dalk of iets klein net ’n drupel in die emmer is maar op die ou end maak baie druppels die emmer vol. Dit maak mens trots.”

Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak: SMS jou naam na 45350  (R1).

Soortgelyke plasings