|

AfriForum se Upington-tak skenk voedsel aan Dakota-sopkombuis

AfriForum se Upington-tak het op 28 Junie voedsel aan ’n sopkombuis in die Dakota woonbuurt in Upington geskenk. Hierdie sopkombuis sorg dat sowat 300 kinders tydens die wintervakansie ten minste een ordentlike ete per dag kry.

Die tak het onder meer aartappels, botterskorsies, uie, sopmengsel, pasta, wortels, vleis en brode aan die sopkombuis geskenk. 

“’n Paar dames uit die gemeenskap het die tak om hulp genader aangesien die vakansietyd beteken dat baie van die kinders wat elke dag kos by die skool kry vir hierdie tydperk waarskynlik nie toegang het tot ’n ordentlike bord kos nie. Die gemeenskap gaan gebukkend onder werkloosheid en die gevolg is dat kinders baie keer honger gaan slaap. Hierdie dames ploeg terug in die gemeenskap in deur hul eie gasstofies en potte in te span om sop by hulle huise te maak en dan in die gemeenskap uit te deel,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

“Ek wil graag die gemeenskap aanmoedig om ’n bydra te lewer met projekte soos hierdie. Die nood is groot in ons gemeenskappe en ons moet saam staan om ons naastes te help.”

Raak vandag nog betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak deur “Upington” te SMS na 45350 (R1).   

Soortgelyke plasings