| | |

AfriForum se Vaaldriehoek-takke voorsien skolehulppakkette aan skole

Die AfriForum-takke in die Vaaldriehoek het 19 skolehulppakkette aan skole in die area versprei as deel van die #AfriForumStaanSaam vir Skole-projek wat in samewerking met AfriForum Jeug van stapel gestuur is. Die skolehulppakkette bevat COVID-19-inligtingstukke, patrone vir gesigmaskers, klaskamerplakkate, elektroniese termometers, handreiniger en handreinigerstaanders. Die waarde van een pakket beloop R6 500.

Skole in Vanderbijlpark, Vereeniging en Meyerton het hierdie pakkette ontvang.

“Dit is ’n voorreg om skole in hierdie tyd by te staan en om seker te maak dat hulle voorbereid is om die 2020 akademiese jaar voort te sit. Skole het nie vir hierdie ekstra uitgawes begroot nie en daarom is dit vir AfriForum belangrik om skole by te staan,” sê Marié Naudé, AfriForum se hoof vir die noordstreek.

“AfriForum het baie versoeke van skole ontvang omdat hulle onvoldoende hulp van die Departement van Onderwys ontvang het. Daarom het AfriForum se takke in die Vaaldriehoek aan die skoleprojek deelgeneem om sodoende te verseker dat leerders veilig terug kan keer skool toe,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Vaaldriehoek.

“Al die skole is baie dankbaar vir die steun wat hulle ontvang en dit is ’n riem onder die hart om te sien hoe almal saamspan om die beste van die situasie te maak,” sê Ungerer verder.

AfriForum het reeds meer as 40 000 bottels handreiniger, 8 000 plakkate en 200 termometers aan skole landwyd versprei.

AfriForum se Vaaldriehoek-takke wil graag nóg skole ondersteun in die uitdagende tye wat voorlê om te verseker dat hulle op ’n veilige wyse funksioneer. Die takke moedig gemeenskappe daarom aan om by die inisiatief betrokke raak: SMS jou naam na 45342 (R1) en word deel van die oplossing.

 

Soortgelyke plasings