| |

AFRIFORUM SE VAALHARTS-BUURTWAG HOU GEMEENSKAP VEILIG

AfriForum se Vaalharts-buurtwag in samewerking met Hartswater Crime Watch het onlangs saam met die plaaslike polisie en weermag gewerk om misdaad te beveg in die gemeenskap.

Die buurtwag was onder meer behulpsaam toe daar op ’n taverne, wat drank verkoop en rus verstoor het ná die aandklok, toegeslaan is. Die drank is gekonfiskeer en die eienaar is beboet. Die optrede volg ná verskeie klagtes uit die gemeenskap oor dié spesifieke taverne wat van laat saans tot in die oggendure drank verkoop en harde musiek gespeel het.

Buurtwaglede het ook deur die res van die gemeenskap gepatrolleer om seker te maak dat inwoners veilig is. Gesamentlik het die buurtwag en rolspelers 27 uur lank gepatrolleer en 120 km afgelê.

“Hierdie samewerking wys dat niemand verhewe is bo die wet nie. Samewerking is die sleutel tot sukses. Ons kan veel meer uitgerig kry in ons gemeenskap as verskeie rolspelers saam met mekaar werk,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

“Ons wil graag die gemeenskap uitnooi om meer betrokke te raak by hierdie tak en buurtwag sodat ons saam ’n groter verskil in die gemeenskap kan maak,” sê Smit.

Maak vandag nog ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap. Sluit aan by jou plaaslike AfriForum-buurtwag: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings