|

AfriForum se Vaalharts-buurtwag vind gesteelde goedere en ontvang opleiding

AfriForum se Vaalharts-buurtwag het op Woensdagoggend 18 September 2019 in samewerking met Hartswater Crime Watch gesteelde goedere terugbesorg.

Dit volg nadat ’n gemeenskapslid die buurtwag op ’n WhatsApp-groep in kennis gestel het dat hulle pas ’n diefstal aanskou het. Die buurtwag het die area dadelik begin fynkam en die verdagte is vinnig aangekeer en aan die polisie oorhandig.

“Die gesteelde goedere is aan die eienaar terugbesorg en die eienaar het ’n klag van diefstal by die polisie ingedien,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

“Volgens buurtwaglede was die verdagte glo al betrokke by ander diefstalle. Ons het die eienaar van die gesteelde goedere bygestaan terwyl hy die klag ingedien het en sal die saak moniteer,” sê Smit.

Dié buurtwag het ook op 17 September 2019 ’n veiligheidsvergadering in Hartswater gehou waartydens David Olivier, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die suidstreek, die buurtwag meer vertel het oor wat mense te doen staan in die geval van grondgrype, asook wat hul regte as landsburgers is wanneer veiligheid ter sprake is. Die lede het ook die geleentheid gehad om vrae te vra en hul bekommernisse te deel.

“Veiligheid is ’n prioriteit en die gemeenskap en buurtwagte het hierdie kennis nodig om hulle te beveilig en te bemagtig. Die opleiding was baie gewild en wys dat daar ’n groot behoefte aan veiligheid in ons gemeenskappe is,” sê Smit.

Die tak beoog ook om in die toekoms opleiding in regsaspekte aan te bied.

Raak vandag nog by AfriForum se Vaalharts-tak betrokke: SMS “Vaalharts” na 32532 (R1).

Soortgelyke plasings