AfriForum se Vaalharts-tak gaan monument restoureer


AfriForum se Vaalharts-tak begin op 5 Februarie 2019 met die restourasie van die Memorable Order of Tin Hats Caprara Shellhole-monument. Dié monument – ’n Bofors 40 mm-lugafweerkanon – is deur Old Bill W.H. White en lede van die Caprara Shellhole aan die munisipaliteit van Hartswater geskenk ter nagedagtenis van en erkenning aan alle oudweermagmanne en -vroue van die omgewing.

Daar is tydens ’n takvergadering besluit dat dit noodsaaklik is om die monument te restoureer, wat onder vandalisme en swak instandhouding deurgeloop het. Vaalharts-tak se jeuglede, lede van die takbestuur en die gemeenskap het onderneem om die restourasie self aan te pak.

“Geskiedenis is vir ons almal van groot belang – dit help ons om uit die verlede te leer en ook om die helde van ons land, en veral die platteland, te gedenk,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Bo-Karoo.

SMS “Vaalharts” na 32532 (R1) om by AfriForum se Vaalharts-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings