AfriForum se Vanderbijlpark-tak skep hoop tydens boomplantmaand


Die AfriForum-tak in Vanderbijlpark het 100 bome in die Nanescol-begraafplaas as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaand geplant.

Volgens Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Vaaldriehoek en Wes-Rand, het die organisasie vanjaar meer as 3 000 bome landwyd geplant. “Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit esteties te verbeter nie – ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is uiteraard ’n belangrike deel van die ekostelsel en ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron, maar ook deel van ons erfenis,” sê Ungerer.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum het sy takke aangemoedig om inheemse bome te plant wat maklik in hul natuurlike omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n ewigdurende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het wel deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Vanderbijlpark onderneem om hierdie sorg self te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons as AfriForum hier is om te bly en ware hoop vir die toekoms het,” meen Ungerer.

Die tak moedig die gemeenskap aan om deel te word van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings