AfriForum se Velddrif-buurtwag help gesteelde voertuig opspoor en verdagtes arresteer


AfriForum se Velddrif-buurtwag het op 2 September in samewerking met die SAPD en ADT Sekuriteit ’n gesteelde voertuig teruggevind en vier verdagtes in verband hiermee gearresteer.
ADT het die buurtwag in kennis gestel van ’n verdagte voertuig in Irislaan. Die voertuig het egter weggejaag, waarna die buurtwag, ADT en die SAPD ’n soektog van stapel gestuur het. ’n Buurtwaglid wat op ’n uitkykpunt was, het die stilstaande voertuig oorkant die pad in Voortrekkerweg opgemerk. Die SAPD het die voertuig genader en twee insittendes gearresteer. ADT het die ander twee verdagtes buite geboue naby die voertuig in hegtenis geneem.

“Goeie deurlopende beplanning en skakeling tussen alle rolspelers het verseker dat die voertuig opgespoor kon word. Die voertuig is as gesteel in Stellenbosch aangemeld en die saak is derhalwe na Stellenbosch-SAPD terugverwys,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se streekshoof vir gemeenskapsveiligheid in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap.

Enige persoon wat by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke wil raak, kan die woord “Veilig” na 45353 SMS (R1).

Soortgelyke plasings