|

AfriForum se Ventersdorp-tak sit stryd teen rommel voort vir #OnsDorp-projek

Die AfriForum-tak in Ventersdorp het die afgelope maand steeds voortgegaan om rommel uit die dorp te verwyder as deel van die organisasie se #OnsDorp-projek.

Die projek het reeds in April afgeskop en die volgende strate – of gedeeltes daarvan – is skoongemaak: Graaf-, Koekemoer-, Spruit-, Voortrekker-, Mark-, Berg-, Carmichael-, Boshoff-, Wilson, Van Riebeeck-, Gouws-, en Paarlstraat. Sommige van hierdie strate moes ook ’n tweede keer skoongemaak word.

Daar is in totaal al 19 ton vullis (1 127 sakke) verwyder en tuinvullis is ook stuk-stuk verwyder. Die tak het ook borde op verskeie plekke opgerig wat die gemeenskap ontmoedig om rommel te strooi.

“Hierdie projek van die Ventersdorp-tak maak ’n reuseverskil in die dorp. Ek doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by die projek en te help maar ook om self nie vullis te strooi nie en die mense wat dit wel doen, tot verantwoording te roep. Dit is elke inwoner se plig om hulle dorp skoon te hou. Baie dankie in besonder aan Johan Pretorius, die tak se omgewingsbeampte, wat hierdie projek geloods het,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak sal graag hierdie projek wil voortsit maar benodig hulp van die gemeenskap af in die vorm van donasies soos swart sakke, brandstof, lone vir die werkers en kospakkies vir die werkers en vrywilligers. Die tak het ook hul dank uitgespreek teenoor die gemeenskapslede wat reeds swart sakke bygedra het tot die projek.

Gemeenskapslede wat wil betrokke raak by die tak se aktiwiteite kan ’n SMS met die woord “Ventersdorp” na 45344 (R1) stuur.

Soortgelyke plasings