|

AfriForum se Vereeniging-tak verskerp veiligheid by Mimi Fourie Hof

Die AfriForum-tak in Vereeniging het op 9 Oktober 2019 die veiligheid by Mimi Fourie Hof, ’n tehuis vir bejaardes, opgeskerp nadat die tehuis geruime tyd onder misdaad deurgeloop het.

Volgens Dewet Ungerer, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Wes-Rand, het diewe gereeld die tehuis se diefwering en koperpype gesteel, wat die inwoners van die tehuis weerloos en vir weke sonder water gelaat het.

Diewe het toegang tot die perseel verkry deur by die vullisverbergingshoek in te breek. Die plaaslike AfriForum-tak het die vullisverbergingshoek met palissades afgeskort, waarna hulle ook die hek, wat gedurig oopgebreek word, versterk het deur ’n ysterrolhek te installeer. Sodoende word toegang tot die perseel van buite af beperk.

“Die tak het die veiligheid by die tehuis opgeskerp aangesien die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit geheel en al hul pligte versuim om Mimi Fourie Hof by te staan,” sê Ungerer.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Vereeniging-tak: Stuur ’n e-pos na dewet.ungerer@afriforum.co.za, besoek dié tak se Facebook-blad of SMS “Vereeniging” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings