| | | |

AfriForum se versetpatrollie maak die regering se oë oop

AfriForum het op 6 Junie 2020 ’n nasionale versetpatrollie gehou nadat buurtwagte hewige teenkanting van sommige SAPD-beamptes ontvang het om hul bedrywighede tydens vlak 3 te hervat. Vlak 3-regulasies bepaal dat enigiemand hul huis mag verlaat om ’n spesifieke diens te lewer behalwe aktiwiteite wat pertinent uitgesluit is soos genoem in tabel 2 van dié regulasies. Dié patrollie het daartoe gelei dat lt.genl. Fannie Masemola, Adjunkkommissaris van Polisiëring, AfriForum se interpretasie van die regulasies kon insien en hy ’n skrywe hieroor aan alle provinsiale en eenheidskommissarisse gestuur het.

Die burgerregteorganisasie was, nadat vlak 3-regulasies in werking getree het, van mening dat dié regulasies nie die bedrywighede van buurt-, hoewe- en plaaswagte uitsluit nie. AfriForum was so oortuig dat dié interpretasie korrek is, dat hulle onderneem het om enige buurt-, hoewe- en plaaswag met regshulp by te staan indien een van dié wagte se lede in hegtenis geneem word bloot omdat die lede hul onderskeie gemeenskappe beveilig. AfriForum se buurtwagte het weer die bul by die horings gepak en patrollies onderneem.

“AfriForum glo dat gemeenskappe se veiligheid ’n prioriteit moet wees. Minister Nkosazana Dlamini-Zuma het bewys dat sy onbekwaam is deur nie gemeenskappe se veiligheid as ’n primêre prioriteit te ag nie. Die feit dat AfriForum druk moes toepas om dit by die owerhede tuis te bring dat buurt-, hoewe- en plaaswagte ’n onmisbare rol speel in die veiligheid van gemeenskappe en hulle take so gou moontlik moet hervat, bevestig dit.” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof vir Gemeenskapsveiligheid.

“Die regering en SAPD se interpretasie van die heersende regulasies is steeds nie heeltemal korrek nie, aangesien hulle glo vereis dat buurtwagte permitte moet hê om hul diens aan hul onderskeie gemeenskappe te lewer. Dit strook egter nie met die regulasies nie, en hulle sal slegs permitte benodig as hulle oor distriks-, metro- of provinsiale grense moet reis om hulle diens te verrig,” sluit hy af.

Soortgelyke plasings