AfriForum se verwerping van wit nasionalisme

Deur Ernst Roets

Die ideologie van wit nasionalisme is een wat ontbloot en teengestaan moet word. Wit nasionalisme is al op baie verskillende maniere beskryf, maar dit kom neer op die bevordering van die belange van wit mense omdat hulle wit is. Swart nasionalisme kan natuurlik ewe problematies wees, maar dit is nie waaroor hierdie artikel handel nie.

AfriForum is al as baie dinge beskryf, sommige daarvan met reg. In sy wese is AfriForum ’n burgerregte-organisasie wat hom op die beskerming van minderheidsregte toespits. Omdat AfriForum vanuit die Afrikanergemeenskap ontstaan het, het die organisasie wel ’n klem op die belange van daardie bepaalde gemeenskap. Hierdie klem is onderhewig aan die streng voorwaarde dat die belange van een gemeenskap nie ten koste van ’n ander gemeenskap bevoordeel of bevorder mag word nie.

AfriForum is gevestig op die beginsels van vreedsame naasbestaan en ook van wedersydse erkenning en respek tussen verskillende gemeenskappe. Die bevordering van die belange van lede van ’n bepaalde rassegroep – bloot omdat hulle tot daardie groep behoort – staan vierkantig in die pad van juis dit wat AfriForum wil bereik.

AfriForum volg ’n gemeenskapsbenadering. Ons erken die onbetwisbare waarheid dat mense vryelik met bepaalde gemeenskappe assosieer en dat mense graag wil sien dat hulle gemeenskappe floreer. Sulke gemeenskappe kom op natuurlike wyse tot stand, gewoonlik op grond van kultuur, taal of godsdiens. Mense kan ook verskeie identiteite hê. So byvoorbeeld beskou ek myself as deel van die Christelike godsdiensgemeenskap, maar ook van die Afrikanerkultuurgemeenskap, maar ook van die Afrikaanse taalgemeenskap, maar ook van die gemeenskap van mense wat woon in die territoriale staat wat vandag as Suid-Afrika bekend staan. Hierdie gemeenskappe oorvleuel, maar elkeen van hulle is anders en elk van hierdie gemeenskappe bestaan uit mense wat vryelik met daardie gemeenskap assosieer maar wat ook nie noodwendig deel wil wees nie van die ander gemeenskappe waarvan ek deel uitmaak. AfriForum fokus nie op die regte van die “wit gemeenskap” nie en verwerp so ’n beskrywing, onder andere op grond van die feit dat lidmaatskap nie tot enige bepaalde rassegroep beperk is nie – en dat AfriForum baie lede het wat nie wit is nie, byvoorbeeld.

Beskerming van die belange van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe en aanmoediging van wedersydse erkenning en respek tussen sodanige gemeenskappe is in die algemene belang. Dit stem ook ooreen met beste praktyke wat deur die Verenigde Nasies en baie ander internasionale liggame voorgestaan word. Organisering op grond van velkleur is egter vernietigend vir maatskaplike samehorigheid.

Om AfriForum as ’n konserwatiewe organisasie te bestempel, sal nie onakkuraat wees nie. Ons beskou onsself egter as konserwatief in die ware betekenis van die woord, en ons vereenselwig nie met die stigma wat deesdae aan konserwatisme geheg word as synde ‘n ideologie wat na die verlede hunker, of wat teen verandering gekant is bloot omdat hy verandering nie kan hanteer nie, of wat tradisie ten koste van vooruitgang wil bewaar. AfriForum is niks hiervan nie. AfriForum kan as konserwatief beskou word in die sin dat ons gemeenskap, kultuur, tradisie, erfenis en gewoonte koester. Ons heg groot waarde aan hierdie dinge in ons eie gemeenskappe, maar ons wil graag sien dat alle gemeenskappe dinge wat hulle na aan die hart lê, sal beskerm en bevorder.

Ons erken dat daar ontasbare dinge is wat mense as deel van hulle identiteit koester en dat hulle dit wil bewaar. Ons is egter oortuig dat die bevordering van hierdie dinge volhoubaar verwesenlik kan word slegs as ander kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe ook die reg kry om hulle lewe in te rig soos hulle dit goedvind – selfs al stem jy nie met hulle oortuigings saam nie.

Rasgegronde nasionalisme staan in die pad van juis hierdie dinge wat AfriForum wil bereik. Dit is in die nastrewing van hierdie dinge wat AfriForum koester, en ook in sy teenkanting teen ’n eendimensionele rasgegronde benadering, dat AfriForum al herhaaldelik stappe gedoen het vir die beskerming van die regte van ander gemeenskappe.

Voorbeelde hiervan sluit in AfriForum se veroordeling van wit nasionalistiese groepe en rassistiese kommentaar deur wit nasionaliste. Ander voorbeelde sluit in AfriForum se regstryd met die Suid-Afrikaanse regering om ’n skool vir die Zulu-gemeenskap van Nkandla te bou, die bystand wat aan die Wallmansthal Communal Property Association en die Ndebele Vaaltyn-stam gelewer is, en talle ander.

AfriForum huiwer nie om ferm standpunt in die openbare diskoers in te neem nie. Soos enige organisasie of beweging wat bereid is om standpunt in te neem oor eietydse kwessies, kry AfriForum ook te kampe met die uitdaging van kwaadwillige kommentators wat poog om die organisasie uit te beeld as iets wat hy nie is nie. Dit is ’n lui manier om die organisasie te diskrediteer deur valse stigmatisering en stereotipering sonder om te reageer op die werklike standpunte wat AfriForum inneem.

AfriForum het die ideologie van wit nasionalisme nog altyd verwerp en sal voortgaan om dit te doen.

Ernst is hoof van beleid en aksie by AfriForum.

Soortgelyke plasings