|

AFRIFORUM SE VRYBURG-BUURTWAG STAAN OP TEEN MISDAAD

Die AfriForum-buurtwag in Vryburg het op 21 Julie in dié dorp deelgeneem aan ’n optog teen misdaad. 

Die AfriForum-buurtwag in samewerking met verskillende rolspelers vanuit die sekuriteitsektor   in Vryburg het die massa-optog bygewoon. Die veldtog is deur die Vryburg Taxivereniging gereël om misdaad in Vryburg, veral in die hoofstraat en by die taxistaanplek, aan te spreek. Planne word bespreek en in plek gesit vir die bekamping daarvan.  

Die buurtwag sal gedurende hierdie tyd met die plaaslike polisie en ander instansies vergader om ’n volhoubare plan in werking te stel. Rudi du Toit, AfriForum se buurtwagleier in Vryburg, wil graag elke lid bedank vir die bereidwilligheid en opoffering om misdaad so gou moontlik te rapporteer en te probeer bekamp.  

Vryburg gaan gebuk onder misdaad en dit het ’n enorme negatiewe invloed op die besigheidsektor in die dorp. Mense is selfs te bang om in die hoofstraat uit hulle voertuie te klim en party vermy die straat heeltemal. Vanweë die hoë risiko, beveel toerisme-ondernemings reisigers aan om nie in Vryburg te stop terwyl hulle deurry nie. Dit is ’n doodskoot vir restaurante en gastehuise wat van toeriste afhanklik is. AfriForum werk hard om hierdie probleem nie net aan te spreek nie, maar werkbaar op te los.  

“AfriForum gaan nie toelaat dat die mooi dorp vergaan en tot niet gaan as gevolg van misdadigers nie. Ons sal alles in ons vermoë doen om misdaad te stop en seker te maak ons dryf misdaad uit die dorp. Hiervoor het ons natuurlik samewerking nodig en dis baie bemoedigend om te sien hoe verskillende instansies en organisasies saamstaan teen misdaad,” sê Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellalnd.  

AfriForum se Vryburg-buurtwag is ’n gedugte span wat spog met ’n ervare protospan, brandspan en lugvleuel wat gereeld suksesse behaal met misdaadvoorkoming. Die buurtwag het ook ’n baie goeie verhouding met die plaaslike polisie en die samewerking is besig om vrugte af te werp.  

Sluit nog vandag by AfriForum aan en help ons om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak. SMS jou naam na 45344 (R1) en word deel van die oplossing. 

Soortgelyke plasings