| |

AFRIFORUM SE VRYBURG-TAK ONTVANG BRANDBESTRYDINGSTOERUSTING

Die brandspan van AfriForum se Vryburg-tak het op 17 November brandbestrydingstoerusting van Marnus Pretorius van Vryburg/Hartswater Trailer Hire ontvang.

Die brandspan is sowat twee maande gelede gestig. Alhoewel Vryburg steeds ’n funksionele brandweer het, het AfriForum besef dat daar ’n behoefte is om ‘n brand te kan hanteer totdat die brandweer opdaag. Dit is ook nodig om die regte prosedure te volg wanneer ons bystand aan die brandweer verleen, sou dit van ons vereis word.

Die doel van die brandspan is geensins om die brandweer se funksies oor te neem nie, maar eerder om dit aan te vul. Kundiges is genader en daar word weekliks opleiding aan die vrywilligers verskaf om verskillende omstandighede te kan hanteer. Die groep bestaan ook uit lede met hulle eie toerusting wat met brande op plase behulpsaam is.

Die skenking van toerusting stel die buurtwag in staat om binnekort, met verdere opleiding, ’n doeltreffende hulpstelsel in werking te stel. Die buurtwag wil ook ander instansies, wat graag anoniem wil bly, bedank vir die toerusting wat hul aan die brandspan geskenk het.

“Hierdie is ’n tree in die regte rigting. Deur aktief betrokke te raak in ons gemeenskap en om deel van die oplossing te word, is vir ons as AfriForum se Vryburg-tak baie belangrik en ’n groot voorreg. In ’n tyd waar verskonings maklik gebruik word en dit makliker is om te kla, het ons besluit om in te spring en ’n verskil te maak,” sê Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Sluit vandag nog by AfriForum aan en help om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak. SMS jou naam na 45351 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings