|

AfriForum se Vryburg-tak rig stoptekens op

Die AfriForum-tak in Vryburg het op 13 en 14 Augustus 2020 elf nuwe stoptekens in die dorp opgerig. Dié tak het altesaam reeds meer as 40 stoptekens in die dorp opgerig.

“Baie van die paaie het op kritiese plekke nie meer stoptekens gehad nie – dit was of verwyder of omgery. Voetgangers en ander bestuurders se veiligheid was in gedrang en dit is waarom die tak besluit het om iets daaraan te doen,” sê Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Pieter Watt en sy gedugte span wat ook die slaggate in die dorp herstel, het die 11 stoptekens binne twee dae opgerig. Talle inwoners het gestop en die tak bedank vir hul werk in die gemeenskap. Nelson Mongale van die Naledi Plaaslike Munisipaliteit het ook sy dank teenoor AfriForum uitgespreek.

“Ons is trots op ons dorp en ons wil graag doen wat ons kan om sake te verbeter. Ons wil nie hê ons dorp moet verder agteruitgaan nie,” sê Dries van Wyk, voorsitter van AfriForum se Vryburg-tak.

Sluit vandag nog by AfriForum aan en help ons om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS jou naam na 45351 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings