|

AfriForum se Vryburg-tak vier Erfenisdag

As deel van Erfenisdag in September het die AfriForum-tak in Vryburg van die buurtwagbrandspan se hulp gebruik gemaak om die konsentrasiekampkerkhof en die parkie langsaan skoon te maak. Die gesnyde gras is aan ’n plaaslike boer as voer vir sy beeste geskenk.

Op Erfenisdag het inwoners van Vryburg ’n kransleggingseremonie by die konsentrasiekamp­kerkhof bygewoon. Prieur Cloete het ’n skattejag vir jeuglede aangebied om die geskiedenis rondom Erfenisdag op ’n interessante wyse oor te dra.

AfriForum Jeug en leerders van die CVO-skool in Vryburg het kranse versier wat deur AVBOB geborg is. Dié kranse is aan die monument by die kerkhof vasgemaak om hulde te bring aan mense wat in die konsentrasiekampe gesterf het. Daarna het die span vullis opgetel wat rondom die monument gelê het en in swart sakke, wat deur Noordwes Verpakking geborg is, verwyder.

Die Vryburg-tak het Erfenisdag verder gehuldig deur bome by die Groot Trek-monumente – wat onlangs deur die plaaslike AfriForum-tak omhein is – te plant.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, sê dat die takbetrokkenheid by Erfenisdag werklik ’n viering van eg Afrikaanse erfenis was.

“Almal wat die aksies bygewoon het, erken die belangrikheid van ons geskiedenis maar skep terselfdertyd ook hoop vir die toekoms.”

SMS “Vryburg” na 45351 (R1) om by AfriForum aan te sluit.

Soortgelyke plasings