AfriForum se Vryheid-tak, Nersa en munisipaliteit vergader


Die AfriForum-tak in Vryheid het op 16 Mei 2019 saam met die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) en die AbaQulusi Plaaslike Munisipaliteit in Vryheid vergader om die gereelde kragonderbrekings en swak onderhoudswerk op kraglyne te bespreek. Dít volg nadat die tak in Februarie vanjaar ’n klagte by Nersa ingedien het oor kragonderbrekings wat kritiese gevolge vir plaaslike ondernemings inhou.

Nersa oudit tans bogenoemde munisipaliteit en doen inspeksies op die kraglyne wat gereeld probleme gee. Die finale resultate van die oudit, asook die munisipaliteit se aksieplan sal mettertyd aan die publiek bekend gemaak word. Nersa het verseker dat hulle die munisipaliteit sonder versagting aanspreeklik sal hou om hierdie probleme aan te pak.

“Kraglyne wat weekliks probleme gee hou groot ekonomiese implikasies vir ons ondernemings in en rig geweldige skade aan elektriese toerusting aan. Ons het ongelukkig geen ander uitweg gehad as om Nersa vir hulp te nader nie nadat menige vergaderings met die munisipaliteit geen oplossings opgelewer het nie,” sê André van der Walt, voorsitter van AfriForum se Vryheid-tak.
“AfriForum waardeer Nersa se betrokkenheid by hierdie tipe klagtes, aangesien dit hul wetlike plig is om te verseker dat energieverspreiders by hul lisensievoorwaardes hou,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.
“Ondernemings het ook hulp aangebied met die onderhoud van kraglyne wat dringend instandhoudingswerk benodig. AfriForum, in samewerking met plaaslike ondernemings, bied binnekort ’n voorlegging rondom hierdie kwessies vir die munisipaliteit aan,” voeg Van der Walt by.

Ondersteun AfriForum om jou gemeenskap te help: SMS “Vryheid” na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings