AfriForum se Vryheid-tak verf voetoorgange


Die AfriForum-tak in Vryheid het die afgelope week begin om verskeie voetoorgange te verf ten einde padveiligheid in dié dorp te verbeter. Dít vorm deel van die tak se selfdoenaksies. Verskeie voetoorgange word al vir ’n geruime tyd nie deur die plaaslike munisipaliteit onderhou nie en het gevolglik uiters gevaarlik vir die publiek geword.

Lady Jane, ’n plaaslike onderneming wat verf verkoop, het 50 liter padverf aan die tak geskenk.

“Dit is met absolute trots dat Lady Jane die verf kon skenk vir die instandhouding van ons dorp se paaie. Ons voel dat dit die minste is wat ons kan teruggee vir ons dorp en sy inwoners. Ons besef nie altyd dat elke druppel naderhand ’n emmer vol maak nie,” sê die span van Lady Jane.
“AfriForum se Vryheid-tak het die gevaarlike voetoorgange geïdentifiseer nadat klagtes ontvang is dat ongelukke amper by dié oorgange, wat nie in stand gehou word nie, plaasgevind het. Ons het daarom met die projek begin en sal vir die volgende week daarmee voortgaan,” sê André van der Walt, voorsitter van AfriForum se Vryheid-tak.
“AfriForum volg ’n dubbele strategie om die plaaslike owerhede sover te kry om hul verpligtinge na te kom, maar spring ook self in om die werk te doen. Deur hierdie probleme net te los, benadeel ons in werklikheid ons eie toekoms,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

Lady Jane daag ander ondernemings uit om by soortgelyke projekte betrokke te raak, selfs al is hul bydraes ook hoe klein.
Help jou gemeenskap en raak vandag nog by AfriForum betrokke: SMS “Vryheid” na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings