|

AfriForum se Vrystaat-strukture op gereedheidsgrondslag ná EFF-grondgrypdreigemente

AfriForum is gereed om plaaseienaars in die Vrystaat by te staan en vir hulle in die bresse te tree teen onwettige grondgrypaksies nadat Mandisa Makesini, EFF-leier in die Vrystaat, vroeër vandeesweek te kenne gegee het dat die EFF eersdaags arbitrêr plase in die Vrystaat gaan beset.

AfriForum het veral die laaste twee jaar bewys dat die organisasie ’n gedugte opponent van onwettige grondgrype is. Die organisasie het verskeie onskuldige gemeenskappe en grondeienaars suksesvol bygestaan om hul grond terug te kry en die onwettige besetters en betreders te verwyder.

“AfriForum het reeds gebeurlikheidsplanne in plek en wenke beskikbaar om grondeienaars by te staan in die geval van ’n grondgryp. Lede van die publiek word aangemoedig om dié wenke ter harte te neem en AfriForum onmiddellik te kontak indien ’n grondgryp plaasvind,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

“Gemeenskappe word aangemoedig om paraat te wees, te weet wat op hul eiendom aangaan en ’n wakende oog oor hul bure se eiendom te hou om moontlike grondgrype vroegtydig hok te slaan,” sluit Kamfer af.

Die wenke en grondgrypgids is beskikbaar op versoek.

Soortgelyke plasings