|

AfriForum se vrywilligers gee Bethal hoop

AfriForum se Bethal-tak en vrywilligers het in Februarie gewys dat die dorp se welstand vir hulle ’n prioriteit is. Verskeie projekte is van stapel gestuur om herstelwerk te doen en volhoubaarheidsaksies vind reeds weekliks plaas.

Taklede het in samewerking met die GPF Sektor 2 in Buffelstraat gras gesny, dreineringslote skoongemaak en slaggate met doleriet opgevul as voorbereiding vir ’n teerprojek.

Die tak se projek om straatname in die dorp oor te verf gaan ook maandeliks voort. Meer onlangs is straatnaamblokke in Van der Hyde- en Wesstraat oorgeverf.

“Dit is verblydend om te sien dat die gemeenskap van Bethal hande vat om hulle dorp op te knap,” sê Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak.

Die Bethal-tak onderhou ook deurlopend ’n noodwaterpunt by die A.C. Kerk ter wille van beurtwater wat moontlik weens die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit se swak bestuur geïmplementeer kan word.

Met die hulp van plaaslike ondernemings het die tak nóg slaggate in Bethal se sentrale sakekern met doleriet opgevul en beplan verdere aksies om die slaggate in die omgewing met teer te seël.

Dertig AfriForum-asdromme in die dorp word weekliks deur ’n kontrakteur skoongemaak en daar is ’n wesenlike verskil in die dorp se netheid sigbaar. Die Nestlé-brug en rotstuin word ook gereeld netjies en skoon gehou.

“Om Bethal op te knap is ’n reusetaak! Sedert 2017 is meer as R300 000 se herstelwerk aan strate gedoen. Dit is alles met die hulp van ons lede en die inwoners van Bethal vermag,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Soortgelyke plasings