| | |

AfriForum se Welkom-tak skenk voedselpakke aan gesinne in nood

Die AfriForum-tak in Welkom het in samewerking met Solidariteit Helpende Hand op 5 Junie 2020 voedselpakke aan behoeftige gesinne van dié dorp se voedselverspreidingsprogram geskenk.

Die tak het skenkings van boere in die omliggende gebiede ontvang en het 30 koolkoppe, 30 sakke sopmengsel en 150 kg mieliemeel aan Helpende Hand geskenk. Helpende Hand het hierdie skenking na 48 behoeftige gesinne versprei.

“Ons is baie dankbaar vir elke skenking wat na ons kant toe kom. Ons probeer om soveel gesinne as moontlik in hierdie tyd by te staan,” sê Johan Terblanche, voorsitter van AfriForum se Welkom-tak.

“Ons is baie dankbaar vir al die skenkings wat tot dusver ontvang is en vir die harde werk wat ons takstrukture in hierdie tyd verrig. AfriForum sal aanhou om gemeenskappe in nood te help en te ondersteun waar ons kan,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

AfriForum se Welkom-tak het reeds altesaam meer as 10 ton voedsel danksy skenkings versprei en beplan om gemeenskappe in nood verder by te staan. Mense wat kos aan die Welkom-tak wil skenk, kan Terblanche by 082 954 3160 skakel.

Die takbestuur nooi die gemeenskap uit om by die tak betrokke te raak. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Welkom” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings