|

AfriForum se Wes-Moot-tak help om twee verdagtes vas te trek danksy kameramonitering

AfriForum se Wes-Moot-buurtwag het op 10 Januarie 2022 gehelp om twee verdagtes by die Suiderberg-reservoir vas te trek danksy die tak se kameraprojek.

Johan Liebenberg, inligtingsbeampte van AfriForum se Wes-Moot-buurtwag, wat die kameras gemoniteer het, het die twee verdagtes by die reservoir opgemerk. Hy het onmiddellik vir Brinant-sekuriteit, die SAPD en die buurtwag in kennis gestel wat ondersoek gaan instel het.

Dié rolspelers het die twee verdagtes daar voorgekeer en een verdagte het breektoerusting by hom gehad. Die SAPD-beamptes het navraag gedoen oor een van die verdagtes en daar is bevind dat die verdagte gesoek word as deel van ’n moordondersoek. Die SAPD het dié verdagte in hegtenis geneem en na die Hercules-polisiestasie geneem.

“Die monitering van hierdie strategiese kameras lewer goeie resultate met betrekking tot misdaadbekamping. Baie dankie aan al die rolspelers wat betrokke is om misdadigers die gebied te ontsê. As ons saamstaan, kan ons misdaad bekamp,” sê Liebenberg.

“Moniterings- en kameraprojekte soos hierdie dien as ’n bewys dat proaktiewe optrede tesame met volhoubare projekte wel ’n oplossing bied om misdaad hok te slaan. Ons is dankbaar vir elke AfriForum-lid wat projekte soos hierdie moontlik maak,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Sluit gerus by die Wes-Moot-tak aan met ’n vrywillige maandelikse bydrae deur op die gratis Telegram-boodskaptoepassing ’n kort verifikasie te doen by https://t.me/AfriForumBuurtBot, of SMS “Wes-Moot” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings