AfriForum se Wes-Moot-tak woeker gedurende die naweek


AfriForum se Wes-Moot-buurtwag het Saterdag 17 Februarie in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ’n sigbaarheidsaksie in die Hercules-gebied gehou en later die aand is vier dwelmverwante arrestasies gemaak.
Volgens Johan Liebenberg, buurtwagvoorsitter van AfriForum se Wes-Moot-tak, is die arrestasies in samewerking met die Hercules-polisiestasie se K9-eenheid onder die Hendrikstraatbrug gemaak, wat ’n groot knelpunt in die gebied is.

“Samewerking en ondersteuning – onder meer tussen die gemeenskap, buurtwag en die polisie – speel ’n vername rol in misdaadbekamping,” sê Liebenberg.
Dié tak het ook op Sondag 18 Februarie die begraafplaas in Van der Hoffweg skoongemaak. “Die finale rusplek van mense se afgestorwe geliefdes moet skoon en veilig wees, sodat mense nie ongemaklik voel om die begraafplaas te besoek nie,” sê Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord.
“Dit is ongelooflik om te sien hoe die gemeenskap kan saamwerk aan ’n gemeenskaplike doel om in ’n skoon en veilige gebied te  leef,” voeg Oosthuizen by.

AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe in die Tshwane Metropool om by hul plaaslike AfriForum-takke betrokke te raak en aan die aktiwiteite van die buurtwagte deel te neem. Vir meer inligting hieroor, stuur ’n e-pos aan tiaan.oosthuizen@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings