|

AfriForum se Weskus-tak hou skoonmaakaksie by Spreeuwalle

AfriForum en AfriForum Jeug se Weskus-tak het op 10 April 2022 moue opgerol en ’n skoonmaakaksie in samewerking met die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op die strand by Spreeuwalle aangepak.

Dit volg ná die tak verskeie klagtes uit die gemeenskap ontvang het oor die rommel op die strand wat ’n negatiewe impak op die natuurlewe langs die Weskus het. Hierdie skoonmaakaksie het ten doel om natuurbewustheid onder die jeug te skep en om ’n skoon en netjiese omgewing te skep vir strandgangers en inwoners. Altesaam 33 persone het minstens tien vullissakke se rommel opgetel en verskeie ou seeboeie weggery. Na afloop van die skoonmaakaksie is alle vrywilligers met ’n worsbroodjie en koeldrank bederf. 

“Ons is dankbaar vir die goeie opkoms en al die vrywilligers wat kom help om die aksie suksesvol te voltooi. Op hierdie manier skep ons ’n toekoms vir ons kinders en ons sal aanhou om soortgelyke aksies aan te pak,” sê Denis Caldwell, voorsitter van AfriForum se Weskus-tak. 

“Die waarde van hierdie tipe aksies mag nooit geringskat word nie. Ek is baie trots op die tak en jeug se toewyding en bereidwilligheid om die Weskus ’n skoner plek te maak. Die gemeenskap se ondersteuning is uitstekend en ons vertrou dat dié ingesteldheid net meer momentum sal kry,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder in die Boland.   

Die tak moedig die gemeenskap aan om by soortgelyke projekte van die tak betrokke te raak en sodoende ‘n daadwerklike verskil te maak. SMS “Weskus” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings