|

AfriForum se Wilgehof-buurtwag bestry brand by winkelkompleks

AfriForum se Wilgehof-buurtwag het op 15 Februarie om 21:20 ’n oproep ontvang van ’n brand by die Gardenia Kwikspar. Die buurtwag was binne minute saam met hul mediese en veiligheidsvennote, Med24 en VR Sekuriteit, op die toneel.

Die gebeurlikheidsplan, wat spesifiek opgestel is vir ’n insident by die winkelsentrum, is in werking gestel. Die buurtwag se protospan het die gebou en inwoners ontruim, na ’n veilige area geneem en skarebeheer toegepas. Twee wooneenhede se inwoners was afwesig en lede het hierdie mense gaan haal en na veiligheid gebring.

Die gebied is afgesper en die nodige toegang is aan nooddienste voorsien. Die brand is deur lede van AfriForum en VR Sekuriteit geblus voor die brandweer opgedaag het. Dit het voorkom dat die brand versprei het, verdere skade aan eiendom aangerig is of beserings opgedoen is. Med24 het deurlopend op die toneel gebly en verseker dat alle rolspelers veilig is.

“Hierdie is weereens ’n bewys dat Afriforum se spesialisopleiding, toerusting, plaaslike en nasionale radionetwerke en samewerking met ander rolspelers uiters suksesvol is. Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer, maak vinnige optrede deur die buurtwag moontlik. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood by te staan,” sê Joseph Renaud, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die sentraalstreek.

Soortgelyke plasings