AfriForum se Williston-tak vergader met Namakwa-distriksmunisipaliteit


Die AfriForum-tak op Williston het onlangs met amptenare van die Namakwa-distriksmunisipaliteit oor die toestand van dié dorp se paaie vergader.

Taklede het hul misnoeë uitgespreek oor sowel die haglike toestand van die paaie as die gebrek aan die herstel en instandhouding daarvan, terwyl hulle ook melding gemaak het van die vermorsing van die belastingbetaler se geld.
Munisipale amptenare is tydens die vergadering meegedeel dat Peter Schoeman, die Williston-tak se portefeuljevoorsitter vir paaie, in samewerking met ander lede van dié tak ’n verslag opgestel het. ’n Siviele ingenieur is ook betrek om die paaie te inspekteer en op te meet.
Dié bevindinge vorm deel van die verslag wat aan die LUR vir paaie oorhandig is.
Die munisipale amptenare het onderneem om hul volle samewerking en ondersteuning te bied en die bestuur beloof om meer gereeld oor die paaie te skakel.

“AfriForum se bestuur en die gemeenskap sal voortaan die situasie moniteer, maar ek vertrou dat hierdie vergadering die begin van goeie samewerking sal wees wat tot beter instandhouding van ons paaie sal lei,” sê J.D. Smit, voorsitter van AfriForum se Williston-tak.
“Die gemeenskap wat deur die Karoo Hoogland Plaaslike Munisipaliteit bedien word en swak paaie wil aanmeld, word gevra om Peter Schoeman te kontak. Op dié manier sal ons ’n beter idee kry van die omvang van die probleme wat ervaar word,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Soortgelyke plasings