AfriForum se Witbank-buurtwag help om vermiste persoon op te spoor


Die AfriForum-buurtwag in Witbank het op 3 November bystand verleen om ’n vermiste persoon in samewerking met die organisasie se Machadodorp-tak en die South African Support Initiative (S.A.S.I.) op te spoor.
Die noodoproep is vanaf AfriForum se Machadodorp-tak ontvang en die inligting is na S.A.S.I. aangestuur om in dié verband te help, waarna ’n soektog onmiddellik na die vermiste persoon geloods is.

Rassie van der Lith, voorsitter van AfriForum se Witbank-buurtwag, het later die dag ’n voertuig langs die pad opgemerk en die bestuurder genader, waarna dit aan die lig gekom het dat dit die vermiste persoon is. “Sy voertuig het blykbaar onklaar geraak en hy het nie ’n selfoon gehad om hulp te ontbied nie. Hy was reeds sedert die vorige aand langs die pad gestrand, maar niemand het aan hom hulp gebied nie.”

Reëlings is gemaak dat ’n insleepdiens die persoon se voertuig verwyder en hom na ’n plek van veiligheid neem totdat sy familie hom kon bystaan.

“Hierdie is ‘n uitstekende voorbeeld van hoe organisasies kan saamwerk om ’n verskil in ons gemeenskappe te maak. Die man is bejaard en sy mediese toestand kon erg verswak het indien hy langer sonder kos en water langs die pad gestaan het,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga.

Soortgelyke plasings