AfriForum se Witrivier-buurtwag fnuik diewe met vinnige optrede


Gedurende April en Mei 2019 is verskeie gevalle van neut- en vrugtediefstal in die Witrivier-omgewing aangemeld. Lede van AfriForum se buurtwag in Witrivier het gevolglik verhoogde patrollies in die geaffekteerde gebiede ontplooi.

Tydens een van dié patrollies het die buurtwag inligting ontvang dat diewe besig is om neute uit ’n stoor te steel en lede van die Heidelvalley-plaaswag, J&M Sekuriteit en die Witrivier SAPD is na ’n nabygeleë bymekaarkompunt ontbied. Met fyn beplanning is ’n klopjag uitgevoer en drie verdagtes is vir diefstal gearresteer. Die beraamde waarde van die gesteelde neute is ongeveer R140 000.
Daar was ook verskeie ander pogings van vrugtediefstal in die omgewing en meer as R60 000 se vrugte is onlangs teruggevind ná vinnige reaksie van ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy.

“Ons vra boere om deel te vorm van ons patrollies en ander proaktiewe optredes – dit dra werklik daartoe by om die probleem van diefstal in ons omgewing onder beheer te bring,” sê Johan Pelser, voorsitter van AfriForum se Witrivier-buurtwag.

Sluit vandag nog by AfriForum se Witrivier-buurtwag aan: SMS “Witrivier” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings